Sedert die Oordgids in 2010 die eerste keer verskyn het, het elkeen van die daaropvolgende uitgawes ’n unieke tema gehad wat gewissel het van leserskeuses en kampplekke met stergrading tot gewilde kampstreke, gesinsoorde en natuurkampe.
In hierdie 14de uitgawe val die klem op minder bekende kampplekke, en boonop verdeel ons die 176 oorde netjies tussen die nege provinsies. In elke Oordgids tot dusver was daar ’n rits nuwe kampplekke waarvan ons jou vertel, en vanjaar is geen uitsondering nie.
Soos altyd gee ons vir jou al die inligting by elke oord. Dié besonderhede is alles sorgvuldig nagegaan, en by ’n klomp van hulle het ons gehoor daar is nuwe dinge aan die gang. Moet dus nie aanneem jy ken ’n kampplek nie; dit is dalk onlangs opgeknap óf het heeltemal…
