As ’n vrou vir jou sê “my gunsteling-kleur is luiperdvelmotief”, moet jy weet ’n toekoms saam met haar hou nie veilige roomkleure of vervelige dekor in nie. Milan Struwig onthou goed hoe Marina hom met dié stelling verras het kort nadat hulle as Stellenbosse dramastudente verlief geraak het.
Marina is deesdae ’n dramaturg en dosent, en Milan ’n digitalebemarkingsbestuurder. Dié twee, nou 27 en 28, is in 2017 getroud. Hulle het hul woonstel in die Kaapse stadskom verlede jaar in Mei gekoop, en met die kreatiewe gebruik van verf en helder aksentkleure die atmosfeer dramaties verander.
Die Moederstad wys nie sommer haar vriendelike kant vir nuwe kopers nie, en Milan en Marina was soms erg mismoedig – totdat ’n familievriendin en eiendomsagent, Phyllis du Plessis, namens hulle begin rondbel het.…
