Op die staanplek langsaan sing Mark Knopfler: “Check out Guitar George, he knows all the chords,” terwyl hy laat waai op die kitaar. Dan val Potta in: “Mind he’s strieklie riwwim, he doesn’t make it kraai or sieng.” Uit volle bors. Hy staan en dans op een plek, die kort glasie (met twee vingers Three Ships, vier ysblokkies en ’n leksel water) is sy kamma-mikrofoon in sy linkerhand terwyl die regterhand, net soos Guitar George, ritme hou op die verbeelkitaar wat hier nét bo sy knie hang.
Potta, want sy van is Potgieter, dreig al sedert vroeg vanaand toe die manne begin braai het, om die stryery oor wie nou juis die beste kitaarspeler in die geskiedenis is, eens en vir altyd op te klaar deur net een liedjie te…