Ek was ’n klompie jare gelede betrokke by pogings deur deur drie instellings wat onderskeidelik probeer het om die kampbedryf te verbeter. Die veldtog van die Toerismegraderingsraad van Suid-Afrika (TGCSA) was die omvattendste, maar nie sonder sy tekortkominge nie. Die groot probleem was die gebruik van sogenaamde meesterassessors, wat ’n beduidende sê gehad het in gradering, maar in baie gevalle erg tekort geskiet het wanneer dit by praktiese kampervaring kom.
Hierdie assessors moes alle graderingsverslae goedkeur, wat onvermydelik tot konflik gelei het. In een saak het hulle daarop aangedring dat die badkamers van die weelderige Mount Nelson-hotel en dié van Mbizi, Suid-Afrika se eerste vyfster-woonwapark, aan dieselfde standaarde moet voldoen. Dit was onrealisties, en toe die TGCSA se meesterassessor Mbizi se gradering terughou, het die eienaar sy misnoeë sterk uitgespreek.…
