Sasol se finansiële resultate vir die jaar geëindig 30 Junie wys die maatskappy het bates van R111,6 miljard afgeskryf, wat ’n verlies van R91,3 miljard teweeggebring het teenoor ’n wins van R6,1 miljard die vorige jaar. Die lang verwagte syfers oor Lake Charles, sy chemiese projek van $12,8 miljard, het in die tweede helfte van die boekjaar deurgekom. Dit het R100 miljoen bygedra tot die verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) in die tweede helfte van die boekjaar, teenoor ’n verlies van R1,1 miljard in die eerste ses maande, luidens ’n verklaring wat Sasol se finansiële state vergesel het.
“Die virus het ’n skielike daling in hulpbronpryse veroorsaak, die vraag na produkte onderdruk en algemene ekonomiese agteruitgang meegebring. Daarby is ons weens die onbestendige makro-omgewing aan kredietafgraderings onderwerp,”…
