Die Oostelike Hooglande, ook bekend as die Manica Hooglande, strek oor die grens van Zimbabwe en Mosambiek. Dit is ‘n bergagtige area met skouspelagtige natuurskoon, golwende heuwels, groen woude, robuuste kruine, mistige valleie, diep klowe, vloeiende watervalle en sprankelende riviere en mere. Die koel, klam klimaat en welige groen landskappe is in groot kontras met die droë savanne wat meeste besoekers verwag om in Zimbabwe teë te kom.
Nadat ons Gonarezhou verlaat het, ry ons deur die Malilangwe-bewaararea, die tuiste van Zimbabwe se renosterbeskermingsprogram. Die diere is onder streng toesig met 24-uurbeskerming deur gewapende wagte. Hierdie program is een van die min suksesverhale vir renosterbewaring in Suider-Afrika. Gedurende 1997 tot 1998 is 12 witrenosters en 28 swartrenosters vanaf Suid-Afrika hierheen gebring. Na ‘n hervestigingsperiode in bomas, is die renosters vrygelaat…