Helaas, mense skryf nie meer briewe nie. Die ritueel om 'n brief met die hand te skryf, versigtig in 'n koevert te plaas, 'n posseël nat te lek en op te plak, het reeds verdwyn.
Dis nie net 'n liefdesbrief wat jou hart laat bokspring het wanneer jy die posbus oopgemaak en 'n blou of wit koevert daar aangetref het nie. Daar was briewe van familielede wat ver bly, van vriendinne wat só in kontak bly, briewe vanaf die Grens, soms gesensor, van oorsese penmaats wat jou meer van hul verre lande leer.
In ons hedendaagse wêreld waar slakkepos 'n onbekende fenomeen vir die jongeres is, is dit moeilik om jou te probeer indink dat kitskommunikasie destyds glad nie bestaan het nie. Jy moes dae, soms weke, selfs maande wag…
