Dié breedvoerige gids is vol raad oor dinge soos hoe om jou voertuig te stabiliseer, wat om te sleep en hoe om te sleep. Daar’s elfdoenprojekte, leserswenke, ’n sleepgids, inligting oor sleepwetgewing, toltariewe én ’n paklys vir jou kampvakansies.
Julle het gepraat en ons het geluister... WegSleep se eerste Kampgids vir slepers en kampeerders wat in 2012 verskyn het, was ’n wegholsukses. Dit het vinnig uitverkoop en ons het daarna baie navrae gekry van mense wat nog ’n eksemplaar soek. Daarom het ons die gids vir jou hersien, bygewerk en nuut gemaak. Byna die helfte van die inligting in die WegSleep Kampgids 2016 wat jy in jou hand vashou, is nuut en opgedateer. Ons fokus onder meer op sleepkwessies wat die laaste tyd in die kollig was – soos die sleeprybewys en die verwarring en onsekerheid oor hoeveel jy nou eintlik in jou wa mag laai en wat jy met jou voertuig mag sleep. Dis egter nie ’n reël- óf handboek soos jou algebraboek in matriek nie. Dit is ’n…
Soos met enigiets anders in die lewe het kampering ook ’n bietjie administratiewe werk wat jy onder die knie moet kry voordat die wiele begin rol. Dis gelukkig nie hoërgraadwerk nie, maar as jy dit afskeep, kan jy dalk probleme kry. Veiligheidshalwe moet jy enkele begrippe en konsepte onder die knie kry. Tarra. Dit is die massa van ’n leë voertuig (die gewig waarop die lisensiegeld bereken word). BVM. Die bruto voertuigmassa (in Engels GVM) is die maksimum wat die voertuig – sy vrag, brandstof, passasiers en enigiets anders ingesluit – mag weeg. Jou wa se BVM is gewoonlik op ’n plaatjie op die disselboom gedruk. BKM. Die bruto kombinasiemassa (in Engels GCM) is die som van die gewig van die voertuig en dít wat hy sleep – die wettige…
As jy jou rybewys gekry het in die dae toe hy nog in jou ID-boekie gepryk het, mag jy ’n woonwa sleep sonder enige ekstra papierwerk – jou ou kode 08-rybewys het in die nuwe stelsel ’n EB-rybewys geword. As jy jou rybewys ná 1998 gekry het (toe die nuwe kaartstelsel begin is) en jy haak niks groter as ’n bagasiewaentjie vir ekstra pakplek op die langpad of om Saterdae tuinvullis weg te ry nie, kan jy ook gerus wees. Die kode B-rybewys wat jy gekry het die dag toe jy uitpasseer het, is in die haak. As jy egter tans net ’n kode B-rybewys het en jy wil ’n woon- of boswa haak – trouens enigiets met ’n bruto voertuigmassa (BVM) van meer as 750 kg – dan is…
Jou vriend Frik meen jy kan jou Sprite Splash met jou ou kode 10-swaarvoertuigrybewys sleep. Die ou by die bestuurskool sê as jy ’n nuwe C1-rybewys het, is jou kop deur. In die Spar loop jy vir Harry van die verkeerskantoor raak, en hy sê hy meen ook jou C1-rybewys is reg, want hy het gehoor iewers in die toekoms gaan jy wel daarmee kan sleep. Dit is nie presies wat jy wil hoor nie, en nou twyfel jy weer. Jy kies om na die bestuurskooleienaar en Harry te luister, want jy kán mos groot goed bestuur en wil nie van voor af ’n leerlingrybewys kry en die sleeptoets doen nie. EERS, DIE SLEGTE NUUS... Jy is verkeerd ingelig en gaan in die sop beland. Een of ander tyd gaan…
Moet ’n sleepding weerkaatsers hê? Indien wel, moet daar twee wees of sewe? Waar kom die geel lint? Hier’s die antwoorde op al jou vrae. DIE REMME ’n Sleepwa wat minder as 750 kg weeg as hy volgelaai is, hoef nie remme te hê nie, maar as die BVM tussen 750 kg en 3 500 kg is, gaan jou wa inloopremme ook moet hê. Dit beteken daardie Ventertjie waarmee jy Saterdae die tuinvullis wegry, hoef nie sy eie remme te hê nie, maar jou woonwa of boswa moet inloopremme hê. Wanneer die sleepding meer as 3,5 ton weeg, moet hy diensremme hê. En as jy dan nou jou skiboot of Venterwaentjie agter die woonwa móét haak (ons beveel dit vir niemand aan nie), en die twee sleepgoed weeg saam meer…
Hier is ’n paar belangrike punte wat jy in gedagte moet hou wanneer dit kom by die versekering van jou woonwa. AFSONDERLIK OF DEEL VAN JOU HUISHOUD? Besluit of jy ’n afsonderlike polis vir jou woonwa wil hê en of jy hom bloot by jou huishoudelike versekering wil insluit. Die meeste huishoudelike versekeringspolisse sal jou woonwa teen diefstal of skade dek – maar jy sal die inhoud moet spesifiseer en afsonderlik verseker. Dieselfde geld vir die tent. As jy jou sleepding afsonderlik verseker, word die premie nie verhoog as jy byvoorbeeld ’n eis instel teen jou huishoudelike versekering nie. As jou woonwa se versekering deel is van jou huis- of motorversekering, word dié koste ook telkens indirek verhoog wanneer die premie aangepas word – hetsy weens inflasie of ’n eis.…