"Ons is gaande oor die Suidkus en het in Desember 2019 vir die eerste keer by Untu Palms se woonwapark gekamp. Ek, my vrou, Juanita, en ons twee dogters, Tamika (15) en Tamzen (13), het dit só geniet dat ek onlangs vir vanjaar se Desembervakansie weer ’n staanplek daar wou kry. Die oord is heel duidelik gewilder as wat ek besef het, want toe ek met hulle skakel, moes ek hoor hulle is reeds volbespreek vir die vakansie.
HOE LYK DIE KAMPTERREIN?
Ons was baie beïndruk met die plek. Hier is drie soorte staanplekke – 18 gewones wat almal dieselfde ablusiegeriewe deel, 24 luukse staanplekke met private badkamer- en kombuisgeriewe, en 8 hiperluukse staanplekke, wat soortgelyk is aan die luukses, maar met ’n bietjie meer privaatheid en ook ’n stort…