“Sommige ou hande hou daarvan om ’n nuweling bang te ry. Soms ry die nuwelinge jóú bang, soos my kollega Kyle Kock ontdek toe ’n bloedjong motorskrywer met hom in die passasiersitplek in ’n rivier injaag.” Lank gelede het ek my joernalistieke tande geslyp by ’n gemeenskapskoerant in Parys in die Vrystaat. Jy sal verbaas wees hoe baie nuus ’n dorp soos Parys kan oplewer. Daar was nou wel nie elke week ’n transitorooftog of politieke skandaal nie, en wanneer die dorp se rugbyspan verloor het, was dit altyd weens “onnodige hanteerfoute en swak beslissings deur die skeidsregter”. Maar daar was wel ’n ooraanbod nuus waarvoor die inwoners gesorg het – van die Rapportryers, Rotariërs, rolbaluitslae, skolenuus en enorme groente wat in mense se agterplase gekweek is, tot hofsake, troues,…
