Ons langtermyntoetsmotor, ’n splinternuwe Mazda BT-50 3.2 4x4 SLE-bakkie (dubbelkajuit, outomaties), raak by die maand meer gereed vir ordentlike veldry. Ons het hom reeds met ’n stel BF Goodrich T/A-bande, ’n staalagterbuffer, bosbreker, wenas, pensplaat, treeplanke en aluminiumkappie toegerus. Die tyd is ryp vir ’n deftige stel kolligte.
Kyk waar jy ry
Jy het nie jou 4x4 gekoop om die dorp te verken en snelweg toe te mik nie. As dít die geval was, sou die standaardligte waarmee hy uitgekom het, heel voldoende gewees het.
Maar daar waar jy wíl ry, is nie straatligte om die pad vir jou helderder te maak nie. En dit is dan wanneer jy ’n ordentlike stel kolligte op jou 4x4 nodig het. Ons het met Charl du Plessis van Extreme Lights op Stellenbosch gesels…