Die eerste gevoel wat jy kry wanneer jy by Bankfontein se kampplek stilhou, is spyt. Ja, spyt – omdat jy nóú eers hier uitkom. Jy besef jy kon al menige naweek onder dié lieflike kareebome uitgespan en vir die wêreld weggekruip het. Dis net meer as twee uur se ry van Bloemfontein af, maar hier tussen Philippolis en Luckhoff en naby die Vanderkloofdam verras die Vrystaat ’n mens behoorlik. Hier is beboste berge, ysterklipkranse, klowe met koedoes, rooigrasvlaktes en dele Karoo-bossieveld.
Kyk, die Oos-Vrystaat is mooi, maar die suidweste is ewe mooi. En hier is iets in die lug. Iets ouds en geheimsinnigs: Sagte stemme met stories oor Boesmans, swerwers, jagters, Griekwas, Engelse sendelinge, Voortrekkers, oorloë, droogtes en nagmaalnaweke. Die Fourie-familie is deel van dié stories en boer al ’n…
