Hoekom, wonder ’n mens, is Ellisras se naam na Lephalale verander as jy die dorp “Biltongfontein” of “Biltongsbron” kon noem? In dié geweste is daar immers amper meer wildsplase as doringbome. En as ’n mens in ag neem hoe mal Suid-Afrikaners oor biltong is, is dit effens vreemd dat daar nog nêrens in die land ’n dorp na biltong genoem is nie – die enigste pleknaam met dié woord daarin is Biltongkop, ’n kolletjie op die kaart naby Swaziland. Dit teenoor koffie, wat in ’n hele rits name voorkom: Koffiespruit, Koffiefontein, Koffiebus, Koffiehoek, Koffiehoekbos, Koffiehoekspruit, Koffiehoogte, Koffielaagte, Koffiewater, Koffiewater se Laagte en, helaas, Hoeksonderkoffie.
Die R33 loop rustig tussen Vaalwater en Lephalale, en weerskante van die pad staan die wildheinings vir kilometers aaneen. Koedoes wei veilig aan die ander kant…
