Saffraandrade is karmosynrooi, maar verleen ’n goudgeel kleur aan geregte – dit is waarom borrie gewoonlik in resepte as ’n goeie plaasvervanger aangedui word. Sommige mense verwys immers na saffraan as“sonskyn in speseryvorm”.
Die vars pers blomme ruik lieflik soet – “presies soos die hemel,” sê Bennie – maar dis nogal ’n uitdaging om die aroma van die droë stempeldrade te beskryf. Party noem dit soet en aards, amper soos droë gras of strooi; ander meen dis skoon, medisinaal, rokerig, leeragtig of heuningrig. Saffraan is boonop soos rooiwyn: Hoe langer dit staan, hoe dieper die rooi skakering en hoe sterker die geur en aroma.
Die geur van saffraan is ewe ontwykend: bittersoet, maar ook umamiryk, aards, effens metaalagtig, neutagtig. ’n Mens kom ver met min – jy sal onmiddellik die…