Vergeet van arme Alice wat ongrasieus, gat oor kop, in ’n haasgat moes affoeter om haar ondergrondse wonderwêreld te bereik. Op die delwersdorp Cullinan kan jy jou in ’n oogwink tot in Willie Strauss se sonderlinge sonnestelsel lanseer: Jy stap eenvoudig deur ’n groen deur in ’n ewe groen sinkplaatheining.
Maak jou maar reg vir wat agter hierdie onopvallende poort wag: ’n prentjie van ’n plaaswerf met onder meer 7 aanneemhonde (Kosie, Gerda, Bella, Hester, Thembi, Rentia en haar seun, Frikkie, kom van die Wet Nose-dieresorgsentrum op Bronkhorstspruit), 4 sfinkskatte (waarmee Willie eens op ’n tyd geteel en aan katskoue deelgeneem het), 2 Britse korthaarkatte, 2 swane en ’n peloton windlawaaierige eende en uitspattige Poolse kapokhoenders. In skadukolle is verskeie uitspan-en aansitplekke ingerig waar besoekers op sekere Sondae kom weglê…
