Dit is nou ses maande sedert ek na Amerika, my geboorteland, teruggekeer het ná tien jaar op die dorpie Rosendal in die Vrystaat. Hier waar ek nou is, is die paaie goed en die krag dalk altyd aan, maar in my hart is daar ’n groot gat.
Op Rosendal is die pas stadig, iets wat vir my lewegewend is. Daar is berge wat jou ure lank kan vasvang, wolke om dop te hou, koeie wat in die pad afstap, vriende wat groet, iewers ’n koppie koffie wat wag. Daar is pasteibakkers, slangvangers, bouers, broodbakkers, formidabele tuiniers en perdefluisteraars, en baie mense vervul meer as een rol. Ek het altyd ’n stuk tou in my Landie gehad sodat ek kan help as iemand in ’n modderspul vasval.
Nog nooit in my…
