Cobus, ’n gerekende skilder wat in 2013 bekroon is met die Kannaprys vir kuns by die KKNK, het ongeveer 10 jaar gelede sy eerste mes gemaak, nadat hy ’n kursus by Victor Harley gedoen het. En die messe wat hier uit sy werkswinkel verskyn, is ware meesterstukke wat ’n mens se asem behoorlik wegslaan.
Hy gebruik meestal herwonne materiaal, en daarom is die werkswinkel ’n heerlik stowwerige, ouwêreldse plek vol gekonfiskeerde skaapskêre wat die polisie vir hom aandra, ou vyle en allerhande los goed soos skaap-, eland-, gemsbok- en takbokhorings, vlakvarktande en selfs ’n kameelperd-femur. Daar’s leer en velle, en rakke en kratte vol houtblokkies: enigiets van doringboom, perske, en olien tot kasuarisboom (she-oak) uit Australië.
Hier speel Cobus alte lekker, en hy doen alles self: van die slyp van…
