Net ná vier, in die pikdonker, hoor ek die eerste saxofoon. ’n Lament, stadig gespeel, êrens teen die walle van die Droërivier. Die Jubelsdorp van Robertson, daar waar die bruin mense gewoon het toe ek ’n kind was, het min ligte gehad en die strate was nog van grint en stof. Daar was honde aan kort kettings, granaat- en vyebome voor die platdakhuise, en jy kon paraffien, biryani en koffie in die reukruim optel. Robertson het diskrete woongebiede gehad – die onderdorp met sy spoorweghuise, die bodorp en dan, teen die droë voetheuwels van die Langeberg, die Jubelsdorp. Net die Jubelsdorp het na paraffien geruik.
Elke Paassondag van my jeug het só begin: ’n Musikant van die koperorkes begin stap in die donker strate, al spelend op sy saxofoon, en…