Twee bontkiewiete daag gewoonlik voor ons by die Onkolo-skuiling op. Ek en my vrou, Di, stel die kameratoerusting op en kry ons sit in die ondergrondse fotoskuiling. Sodra die son hier teen 6.45 vm. opkom, daag die eerste kleurryke voëltjies op: onder meer die gewone, koning- en swartwangsysie, gewone melba, rooirugstreepkoppie en baardmannetjie.
Kort op hulle hakke kondig tortelduiwe en groenvlekduiwe hulle teenwoordigheid aan, asook ’n paar luidrugtige tarentale en grys kwêvoëls.
Gompoue kom en gaan deurentyd. Hulle drink op ’n koddige manier met hulle pote vorentoe gebuig… Ander wild, insluitend ’n sku duiker, kom groet ook.
Namate dit warmer word, daag troppe springbok, sebra, wildebees, rooibok, kameelperd, koedoe en gemsbok op, gevolg deur ’n rooijakkals of twee. Vlakvarke kom rol in die modder terwyl ’n swartkwasmuishond – nog ’n…