Reeds vroeg in 2015 begin ek, my man, Paul, en vier vriende beplan aan ’n wintervakansie saam. Ek was as kind ’n paar keer in Namibië en wil dit graag weer sien. Ek onthou die glasbotteltjies Coca-Cola by die kroeg in die Grünau-hotel, ’n jag op ’n Gobabis-plaas, en my ma se voorlesings uit Soogdiere van Suider-Afrika terwyl ons in Etosha rondry.
Werksverpligtinge beperk ons tot ’n uit en tuis (van Kaapstad af) van 14 dae. Ons besluit op ’n hoofweggebonde roete tot so ver noord as Etosha en dan ’n talmende terugkeer via Damaraland, Swakopmund, Sossusvlei en die Visriviercanyon.
Ons beplanning vorder aanvanklik stadig. Inligting op die internet is yl, ek hou nie van kamp nie en baie van die ander verblyf val buite ons prysklas.
Uiteindelik kom ons…