Die wye wêreld hou al van kleins af ’n bekoring vir Jens Friis (46) van Johannesburg in. Hy is op Philippolis in die Suid-Vrystaat gebore “waar Engels ’n vreemde, eerder as ’n tweede taal is”. Daar, tussen Trompsburg en Colesberg, het Jens reeds as kind van vreemde plekke gedroom. “Ek wou meer van die wêreld weet en het penmaats in Berlyn, Chicago en Mauritius gehad,” vertel hy.
As kind was daar talle gesinsvakansies saam met pa Jens, wyle ma Naómi en boet Nico, na Jeffreysbaai, Hartenbos of vir kuiers by ouma Kietie op Middelburg in die Kaap.
Jens sê hy was altyd “die ene oë en ore op die langpad”. Ná een so ’n vakansie in die Laeveld het hy sy sub-A-juffrou, Alta Snyman, uitgeboul omdat hy ewe kontant “Tzaneen”…
