Ilka van Schalkwyk (32), ’n bekroonde kunstenaar van Midrand, Johannesburg, beleef sekere dae as blou. Sy hou van mense wat geel of oranje lyk, haar broer is groen en die letter P met sy helderpienk voorkoms, is vir haar baie mooi.
Ilka, wat pas haar meestersgraad in visuele kunste aan die Universiteit van Johannesburg verwerf het, het beslis nie hallusinasies nie – sy is met ’n unieke fenomeen genaamd grafeem-kleur-sinestesie gebore, wat beteken dat sy letters, syfers, dae van die week en mense in kleure kan waarneem.
Die begrip “sinestesie” is afkomstig van die twee antieke Griekse woorde “syn” wat “saam” beteken en “aesthesis” of “sensasie” – ’n neurologiese toestand waar verskillende sensoriese ervarings gelyktydig in die serebrale korteks van die brein plaasvind. Enige van die vyf sintuie – gehoor,…
