Take vir Mei
1 Kikker dit op
In streke met ’n matige winter kan jy steeds Alyssum, skeefblomme, Linaria, Kaliforniese papawers, Gaillardia, Namakwalandse madeliefies, leeubekkies, pronkertjies en Virginiese vilette direk saai. In koue streke sal dit beter wees om saailinge te plant.
Pastelkleure werk goed in klein tuine, waar dit die illusie van meer ruimte skep en ’n vlak bedding diepte kan gee.
Gousblomme, papawers en Nemesia is warm en verwelkomend, perfek vir ’n ingang en op die stoep; ornamentele kool in wit, pienk en pers werk goed in potte of in massas.
Verfraai rotstuine met helder Gazania en Arctotis, blinkgroen vygies, en inheemse bolplante soos bobbejaantjies (Babiana), freesias, kalossies, Lachenalia, fluweeltjies (Sparaxis) en kalkoentjies (Tritonia).
Versier ’n trap met potte vol Pelargoniums met hul pragtige, trompetvormige blomme. Pelargonium peltatum…
