Wanneer jy droom, speel sensasies, emosies, idees en beelde onwillekeurig in jou kop af. Die “storie” is chronologies en realisties, of abstrak. “Ons droom meestal in die REM-fase [vinnige oogbeweging of Rapid Eye Movement] van slaap wanneer die brein meer aktief is,” sê Peet Vermaak, ’n kliniese neurofisioloog en stigter van die slaapklinieke in Mbombela (Nelspruit) en Pretoria. Ons bestee sowat 20% van ons slaaptyd aan droom. Prof. Solms, wat vasgestel het hoe die brein tydens die droomproses werk, sê drie breinaktiwiteite is betrokke: Die frontale lobbe, wat logiese en rasionele denke bepaal, skakel af. Die limbiese stelsel, wat emosies, motivering en outobiografiese geheue beheer, word geaktiveer en inhibisies verdwyn. Die deel aan die agterkant van jou brein, wat verantwoordelik is vir jou sig- en hoorvermoë, word tot op die…