Prettige, lewensgroot bont koei van veselglas begroet jou by die ingang van Marianne Fassler se Leopard Frockateljee in Saxonwold, nog voor jy by die groot hout-dubbeldeure inkom. Hoë suile met keramiekskerwe versier staan brandwag in die binnehof neffens die ateljeevensters, waar mense sigbaar agter naaimasjiene en snytafels bedrywig is.
Binne is dit ’n ontploffing van kleur en kreatiwiteit. Jy weet nie waar om eerste te kyk om alles in te neem nie. Rolle kleurryke materiaal in een hoek, krale en rooi, geruite lappe op ’n tafel, skilderye en beeldhouwerke teen mure, traplangs en in hoekies, blomme en takke in Afrika-potte, klere aan hangers op relings, en aan ’n paspop ’n halfvoltooide tuniek in dié ontwerper se kenmerkende luiperdvelmotiewe.
Marianne self is geklee in lae van swart, grys en wit, met…
