Winter in die Wes-Kaap, 2015. Groot opgewondenheid toe dit begin reën ná die lang, droë somer.
Maar reën soos dié het die Krugergesin, gebore en getoë op die Hoëveld, selde nog beleef. Ná drie dae kom die Kammanassie-rivier af ... driwwe oorstroom. Die plaaskinders kan nie skool toe nie en werkers kan nie op plase kom nie. Klippe raak los, rol van die kranse af en versper paaie.
Dis die Krugers se derde seisoen by die St. Ancothesa-boerdery naby Uniondale in die Wes-Kaap.
Soos Elna (15) beskryf: “Somer, met sy onverskrokke hitte en swem-pret in die plaasdam; herfs, met perske-, pruim-, appel- en peerboorde wat hul blare tog so mooi vir die wind gooi – in geel, oranje, rooi, bruin en pienk. Toe winter, die boorde se takke kaal, sneeu…
