Heerlijk! Dís hul konfyt se naam want dis amper almal se reaksie: “Oe, jééérlik!” “Dis ons erfenis, aangegee van geslag tot geslag,” sê Wiida Badenhorst, ’n aantreklike blondekop met besige, vaardige hande.
Sy onthou haar kindertyd op ’n plaas met die singende naam Skaterwater, naby Bothaspas – tussen Memel en Newcastle – in KwaZulu-Natal. Zoeloe-vroue wat in die warm son nastergal in die veld en op die lande bymekaarmaak en, emaljeskotteltjies op die koppe, plaashuis toe aandra. Bietjies-bietjies, totdat haar ma, Elize Conradie, genoeg het om konfyt te kook. ’n Goeie seisoen sou so tien botteltjies konfyt oplewer. Dit was skaars, gesog. Later het sy die saad in haar tuin gesaai en was dit die sterproduk by die Bothaspaskontreiwinkel, wat sy dertig jaar bedryf het.
Nastergalkonfyt is nie iets wat…
