Van Table View se kant draai jy by Voortrekkerweg regs van die N7 af, verby die kerkhof, regs en die industriële sentrum is op jou linkerkant, trietsig in die Kaapse eendeweer. Verdere aanwysings is nie nodig nie, want jou neusvleuels begin bewe soos ’n haas in ’n geelwortelland. Masala, knoffel, speserye . . . aaahhh . . . “Ag, jy raak gewoond daaraan,” sê Amina Abrahams, wie se handelsnaam, Exotic Taste, vandag in 50 Shoprite Checkers-takke in die Wes-Kaap pryk. Netjies in haar hijab, oorhandig sy ’n haarnet voor sy jou trots deur haar heiligdom begelei. Hier is die “baarmoeder”, die kombuis waar rissie-atjar tans prut, met die steil trap op na haar kantoortjie . . . “Alles wat jy om jou sien [sy beduie met daardie flinke hande], is…