Om twee formidabele kokke soos Barbara Joubert en Herman Lensing se vis en skyfies te proe en te beoordeel is nie net intimiderend nie, maar ook senutergend vir ’n gewone mens soos ek. Daarom het ek besluit om my 83-jarige ma, Babs, met haar handsak vol blou, geel en wit pilletjies saam te sleep na die Groot Kook in die Kaap – vir emosionele ondersteuning, ja, maar ook sodat sy vir my een van daardie blou pilletjies kan injaag as my senuwees knaag.
BARBARA
Sy hou by die tradisionele manier van vis en skyfies maak, het Barbara besluit. Sy het haar stokvis in eier gedoop en in meel gerol, en toe in kanola-olie* gebak. Haar aartappelskyfies het sy dik gesny, in die oond gebraai en met ‘n bietjie Maldon-sout gegeur.…
