HIEP-HIEP HOERA!
Dis sulke tyd – uiteindelik! Dis al weer die seisoen van swem en sonbaai, strandsambrele, kaalvoet loop, koelbokse, nimmereindigende vyfdag-krieketwedstryde om te volg, geskenke om uit te deel en te ontvang, skemerkelkies te meng en slaaie te maak, en al daardie luilekkeraktiwiteite wat van die Desembervakansie die meeste van ons se gunstelingtyd van die jaar maak.
Ek is seker daar’s ’n kontingent wintersiele wat nie sal saamstem nie, maar nou ja. Elkeen het mos maar sy plekkie (in die son).
En ’n mens moet, ter wille van die voorkoming van wrede ontnugteringe, in gedagte hou dat dit ook die seisoen van sweterige verkeersknope, onhulpvaardige, afpakkende, verlangse familie, en bowenal, die oorwerkte kredietkaart is. Soos gewoonlik word die oë toegeknyp, die trop-mentaliteit gul omarm in ons klingelende inkopiesentrums, en…