Sy is 21, met die verstandelike vermoëns van ’n sesjarige, en haar bou en gelaatstrekke verklap die diagnose wat haar aanneemouers meer as twintig jaar gelede moes aanhoor: fetale alkoholsindroom. Onomkeerbaar, tragies. En heeltemal voorkombaar, as mense maar net wil luister.
Tisha se aanneemouers, Vivien en Peter Lourens van Pinelands, was vir 16 van hul 32 jaar getroude lewe pleegouers vir babas in nood. Hul uitgebreide gesin bestaan uit twee biologiese seuns, Andrew en David, en drie dogters: Leigh-Anne, Carrie en Tisha. Carrie (26) is ook aangeneem, en het ook spesiale behoeftes.
“Ek wou nog altyd ’n pleegouer wees,” vertel Vivien. “Ek het ’n agtergrond in kinderversorging, en spesifiek die versorging van kinders met spesiale behoeftes.” Baie van die meer as tagtig babas wat hulle deur die jare versorg het,…
