Demensie is ’n uitdaging vir almal betrokke omdat dit mense se funksionering, onafhanklikheid, verhoudings, lewenswyse, persepsies en prioriteite meestal ingrypend verander.
Demensie is meer as net normale vergeetagtigheid wat kom wanneer die jare aanstap. Dié toestand word veroorsaak deur siektes of faktore wat veranderinge in die brein teweegbring. Die simptome sluit meestal die agteruitgang van ’n persoon se vermoë om te onthou, te dink en kommunikeer in, en dikwels ook persoonlikheid- en gemoedsveranderinge.
Demensie kan baie oorsake hê. Sekere soorte demensie kan behandel en selfs omgekeer word as dit net betyds gediagnoseer word. Potensieel behandelbare oorsake wat nie reeds te veel breinskade aangerig het nie, sluit kopbeserings, sekere infeksies soos meningitis, MIV/vigs en sifilis in, hoewel dit ook in gevorderde stadiums onomkeerbaar kan wees. Hidrokefalie, breingewasse, blootstelling aan toksiese stowwe,…