Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika. Volgens die 2011-sensus het 6,85 miljoen (of 13,5%) van Suid-Afrikaners van verskillende kulture Afrikaans as hul moedertaal aangedui. Klink dit soos ’n taal in gevaar? Allermins! Kyk jy na die konstante stroom Afrikaanse boeke, CD’s, toneelstukke en ander skeppende werk in Afrikaans, is dit duidelik dat ons taal nie net geliefd is nie, maar ook aktief en kreatief gebruik word. En nie net deur die ouer geslag nie!
HAIDEE MULLER, RSG-aanbieder en eertydse tydskrifjoernalis, sê onomwonde dat Afrikaans haar hart se taal is. “Dis my grootwordtaal. Ek kom van Oudtshoorn se wêreld af en daar praat die meeste mense Afrikaans. Afrikaans is ’n wonderlike taal, my hart en siel se taal. Selfs as student aan Rhodes het ek Afrikaanse vriende gehad, en…
