Anders as met die Yousafzai-egpaar se eerste kind wat doodgebore is, was Malala ’n gesonde kleinding wat haar aankoms en welsyn luidkeels bevestig het. Maar volgens tradisie en kulturele voorkeure was daar min om oor bly te wees. Sy was nie lig van kleur soos haar ma, Toor Pekai, nie, maar donker soos haar pa, Ziauddin Yousafzai. Sy het ook nie die beeldskone Toor Pekai se fyn gelaatstrekke en groen oë geërf nie – sy was op die oog af haar pa se kind met sy donker vel, bruin oë en bonkige neus. Daarby was sy ’n meisie in Pakistan.
Om simpatie te betuig met haar geboorte, pleks dat seënwense uitgestort is, was vanselfsprekend. Boonop het Toor Pekai en Ziauddin hul dogter vernoem na Malalai van Maiwand, die Pakistani’s se…