DIS hoogsomer, maar die reënwolke pak laag en donker saam oor die Hoëveld. En tog, wanneer sy die voordeur oopgooi, roep Amor Vittone: “Dis so ’n mooi dag!”
Sy sê dit nie net nie, sien jy, sy bedoel dit.
“Kom in, julle, kom in,” sê sy. Sy’s vrolik, innemend en gasvry en so op haar gemak soos iemand wat met énigiemand kan gesels.
Daar was ’n tyd, nie te lank gelede nie, toe sy gereeld op Huisgenoot se voorblad was. Daar was die voorblaaie in goeie tye – haar opspraakwekkende glansverhouding, haar verlowing, haar troue. Met haar kinders, toe nog klein.
Maar daar was ook die voorblaaie in swaar tye – die verbrokkeling van haar huwelik, die lang siekte en dood van haar beroemde eksman, die twis oor sy boedel.…
