SOOS baie ander negejarige meisies het Chanté van der Merwe graag popgespeel. En toe, op ’n dag, stop haar stiefpa vir haar ’n gelaaide geweer in die hand.
Carel Coetsee, ’n kranige sportskut, het haar gewys presies hoe om die wapen vas te hou. Hoe om te korrel. Hoe om haar asemhaling te beheer wanneer sy mik. Druk nou saggies en egalig die sneller, moenie plúk nie.
Kolskoot!
Voorheen het Chanté nie eintlik in skiet belanggestel nie. Sy was ietwat van ’n boekwurm, mal oor dans, en natuurlik oor haar poppe. Maar sedert daardie eerste skoot, by die Krokodilspruit-skietbaan, het sy as’t ware nog nie weer opgehou nie.
“Ek het verlief geraak op skiet,” sê Chanté, nou 17, vandag in haar ouerhuis in Pretoria. Pa Carel en haar ma, Jackie,…