DIT woel voor die kitskosrestaurant se wegneemtoonbank. Ook die binneruim van die eetplek zoem soos klante bestel, kelners heen en weer draf en die koffiemasjien stoom. Dit ruik na kookolie, kougom en voosgevatte papiergeld.
“Two tall cappuccino foam, one short americano, cold milk, thank you, sir!” Dzt… dzt… dzt ryg ente strokies uit die kaartmasjien. Heelwat daarvan beland net daar op die vloer. Die kasregister tjienggg en selfone bliep of blêr deuntjies.
Op Vrydae is hierdie tolpad noorde toe ’n steenkoolstreep, aaneen gestippel met voertuie. Veral oor maandeinde.
Motors, bakkies, karavane, minibusse, busse, trokke. Skedonke en wroemvrate. Sakemense, boere, gesinne; gebroke en heel. Arbeiders, immigrante met en sonder papiere, op pad grens toe. Drywers wat hul lewens waag voor vragte koper, betonpype of lemoene. Luide leerders in skoolbussies, op pad…