Ek is geneig om op die stilering van omtrent elke nuwe voertuig wat in Suid-Afrika bekendgestel word, verlief te raak. Maar voor julle my as ‘n motor-flerrie uitkryt, laat ek verduidelik. Buiten ‘n paar ware lelike eendjies, is daar regtig nie meer onaardige voertuie op die mark nie. Daar is wel heelparty eienaardiges, minder tradisioneles, konserwatiewes, uitsonderlikes, treffendes, eenvoudiges, absurdes en selfs ongelooflikes… maar werklik lelik? Nie regtig nie. In die meeste gevalle het die klassifisering van ‘n voertuig as lelik meer te doen met markvooroordeel as met die werklike ontwerp van die voertuig. Dit is eintlik maar net ‘n kwessie van smaak.
Dit bring my by die onlangse bekendstelling van Hyundai se 2023 Palisade SNV, wat my met sy robuuste, mooi voorkoms, luukse en gemaklike binneruim en goeie werkverrigting,…