As jy deur die pragtige hoofstraat van McGregor ry, en verder aanhou tot waar die pad ’n grondpad word… en nóg verder aanhou, tot daar word die “Pad na Nêrens” skielik doodloop, begin een van die grootste stap-avonture in Suid-Afrika. Klim daar uit jou motor, maak weer seker jy het jou hoed en waterbottels, en val in die pad. Of eintlik, val van die pad af, want die eerste paar kilometer neem jou by “die Galg” af tot onder in die vallei. Die Boesmanskloof-roete, ’n staptog oor 14 km, het byna legendariese status onder stappers. Die roete kronkel oor die Riviersonderendberge en word aan weerskante deur Greyton en McGregor geanker. Dit is een van ’n paar hardebaardstaproetes in die omgewing wat deur Cape Nature bestuur word.
DIE PAD NA NÊRENS…
