Die Wildekus is deurspek met stappaadjies. Jy kan by enige strandjie tussen Gonubie en Port Edward rondkyk en jy sal iewers ’n paadjie opspoor. Al ding is... jy weet nie aldag of die paadjie ’n “amptelike” staproete of bloot ’n uitgetrapte visserman- of beespaadjie is nie.
Morganbaai, ’n stranddorpie sowat 4 km suid van Keimond, is tegnies in die “mak”Wildekus, maar dis wild genoeg.
Om dinge makliker te maak vir stappers het Richard Warren-Smith, die eienaar van die Morganbaai-hotel, verskeie netjiese voetpaadjies tussen Morganbaai en die volgende baai, Dubbelmond, uitgelê. Dit staan bekend as die Morgan Bay Cliff Trails.
“Ek ken die kranse soos die palm van my hand,” sê Richard. “Ons wou graag vir die oornagstappers van die Strandloper-roete ’n makliker roete uitlê. Ek vra toe vir die plaaseienaar,…