Die grootmenskuiers uit my kleintjietyd onthou ek meestal aan die gevreesde gesoenery.
Die boere het mos geglo aan soengroet, daardie tyd. En nie hoe nie, mond-tot-mond. Die meer gesofistikeerde lotte in die stad het in dié tyd dalk anders gegroet, sou nou self nie kon sê hoe nie, maar waar ék grootgeword het – onder die boere van gehuggies en dorpies in die Kalahari en die Groot-Karoo – was die soen die ABS (algemeen beskaafde standaard).
Drukkies was volksvreemd. Dié ongedoente, soos my ouma van Calvinia dit genoem het, het saam met die ondeugde van Hollywood hier aangewaai gekom in films soos Lassie en Pollyanna en so. Onse mense het nie ge-hug nie. Te oorlams, sou die boere brom, ons hang nie aan mekaar nie, dis te familiêr, te klewerig…
