ONSTUITBAAR
My sus Melinda, ’n onderwyseres, was nog altyd “anders”; anders gedink ook, soos die keer toe sy haar eie skool wou begin en die potensiaal gesien het in die klompie verwaarloosde geboue van ’n ou myn op Stilfontein. Dit het regtig sleg gelyk - alles was stukkend, van plafonne tot vensters. Melinda het die plek gekoop en met net haar klein pensioen, haar kar wat sy vir ’n bakkie ingeruil het, haar eie kombuisware, TV, wasmasjien en twaalf leerlinge het sy die private kosskool, Pinnacle Primary and Secondary Boarding School, begin.
Sy het haar nog nooit deur ’n probleem laat stuit nie. Toe Stilfontein se bakkery toemaak, het sy die bakker se masjiene met geleende geld gekoop en dit in haar koshuiskombuis laat insit sodat die kinders brood het…